GAUTENG. – ‘n Pa (39) van Lindelani in Benoni, wat op ‘n aanklag van verkragting van sy dogter teregstaan, se borgtogaansoek is deur die Tsakani-landdroshof geweier. Die dogter was ten tyde van die misdaad 15 jaar oud. Sy het toe sy 18 jaar oud is en haar kind 3 jaar oud, ‘n saak teen haar pa oopgemaak.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beweerde misdaad het glo gedurende Maart 2022 begin toe die slagoffer saam met haar ouers en jonger broer in Tsakani gebly het. Ondanks verskeie rapporterings aan haar ma is die slagoffer nie geglo nie. Nadat die dogter se swangerskap in die Pholosong-hospitaal bevestig is, het haar ma haar glo ‘n konkoksie laat drink in ‘n poging om die baba te aborteer. Die poging was nie suksesvol nie, waarna haar ouers haar na haar grootouers in Limpopo gestuur het om daar te gaan bly.
Sy het in Desember 2022 aan ‘n babaseun geboorte gegee. Toe sy hierdie jaar 18 geword en haar seun drie jaar oud, het sy op 7 Julie ‘n kriminele saak teen haar pa oopgemaak. Hy is op 19 Julie in hegtenis geneem.
Mahanjana sê die pa het as enigste versorger vir sy drie kinders een, 12 en 18 jaar oud, borgtog gevra. Sers. Tebogo Lephoto, die ondersoekbeampte in die saak, het egter borg teengestaan, aangesien DNS reeds vaderskap van die 3-jarige bewys het. Die verdagte sal ook volgens vermoede met die getuienis inmeng, aangesien hy reeds sy kind gekonfronteer het toe sy ‘n saak teen hom oopgemaak het.
Landdros Tebogo Lekgau het borg geweier. Die saak is tot 28 Augustus uitgestel.