WES-KAAP. – ’n Volwasse Risso-dolfyn is Sondagoggend deur inwoners en vrywilligers van Silversands-strand in Bettiesbaai gered nadat dit gestrand het.
Pete Oxford het op die Betty’s Bay Conservancy se Facebook-blad vertel dat hy aanvanklik ontbied is, nadat ’n walviskalf glo op die strand gesien is. Hy het egter met sy aankoms vasgestel dat dit ’n Risso-dolfyn is, ’n spesie wat betreklik skaars langs die kus voorkom. Die dolfyn het op sy sy in ’n vlak poel gelê en gesukkel om asem te haal.
Nadat Ruan Van Zyl opgedaag het, kon hulle die dier beter posisioneer. ’n Groot groep inwoners, vrywilligers en brandbestryders het daarna gehelp om ’n sloot na die see te grawe en die dolfyn met bande en ’n seil na die water te verskuif. Die dier is in die water regop gehou, totdat dit sterk genoeg was om self te swem. Toe dit later weer na die strand beweeg, het Van Zyl die water ingegaan en dit vir sowat ’n halfuur deur die branders begelei.
Die groep het die dolfyn daarna nog dopgehou terwyl dit na dieper water beweeg het. Oxford sê die dier het tans na raming ’n 50/50-kans op oorlewing, maar dat geen verdere nuus voorlopig goeie nuus is nie.




