KWAZULU-NATAL. – Vier mense, waaronder drie gemeenskapspatrolleerders, is dood nadat ‘n skietgeveg Vrydagaand kort voor middernag tussen patrolleerders en drie vermeende rowers in Inanda uitgebreek het.
Volgens kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, was die gemeenskappatrolleerders besig met patrollie in Nohohwana Skekestraat, Bhambayitoe hulle drie mans teëgekom het wat hulle van rooftogte in die omgewing verdink het. ‘n Skietery het uitgebreek toe die patrolleerders hulle konfronteer. Twee persone, ‘n patrolleerder en een van die vermeende verdagtes, het op die toneel gesterf. Nog twee patrolleerders het later in die hospitaal aan hul skietwonde beswyk. ‘n Moordsaak met vier aanklagte is geopen en die ondersoek duur voort.
Lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, die provinsiale polisiekommissaris, het gemeenskapsgroepe gemaan om direkte konfrontasie met verdagtes te vermy en eerder saam met die polisie te werk. “Ons moedig aktiewe gemeenskapsdeelname in die stryd teen misdaad aan – dit is die enigste manier waarop ons kan wen. Gemeenskapsstrukture soos die gemeenskapspolisiëringsforum en ander aanvullende strukture moet die oë en ore van die polisie wees en nooit optrede neem wat hul lewens in gevaar stel nie,” het hy gesê.
Mkhwanazi het daarop gewys dat misdadigers nie sal huiwer om op burgerlikes te skiet nie, aangesien hulle al op polisiebeamptes geskiet het. Hy het leiers van gemeenskapsmisdaadbekampingstrukture versoek om binne die wet op te tree en hul aktiwiteite met die polisie te koördineer.





