Krugersdorp weer onder rook weens brand by Luipaardsvlei-stortingsterrein
Mogale City het op 28 Augustus 2024 vir die sesde keer hierdie jaar gebuk gegaan onder ʼn digte rookwolk, nadat ʼn brand by die Luipaardsvlei-stortingsterrein uitgebreek het. Die brand het reeds om 23:00 op 27 Augustus begin en brandbestryders was vinnig op die toneel om dit onder beheer te bring. Inwoners van omliggende gebiede, soos Krugersdorp-Noord en Dan Pienaarville het oor asemhalingsprobleme gekla.
Michaela, ‘n inwoner van Kenmare, het omstreeks 01:00 uur wakker geword en gesukkel om asem te haal: “Ek het gesukkel om asem te haal!” het sy op ʼn WhatsApp-groep gesê.
Die DA in Mogale City het die waarnemende burgemeester versoek om die stortingsterrein as ʼn rampgebied te verklaar. Hulle het reeds in November 2023 die probleme aangemeld, maar min is gedoen om die situasie te verbeter.
Die VF Plus het ook vinnig gereageer en ʼn dringende omgewingsimpakstudie aangevra, terwyl hulle ʼn klag by die Menseregtekommissie ingedien het. Hulle het inwoners aangemoedig om handdoeke onder hul deure te plaas om die rook uit te hou.
Mogale City se munisipaliteit het erken dat die gasse wat deur die brand vrygestel word, ʼn gesondheidsrisiko inhou, en inwoners wag nou angstig vir verdere optrede van die owerhede.

Openbare kennisgewing
Mense se kommentaar wat in die area woon:












