Die 19-jarige Lawrence Lee en vier van sy vriende gaan dié naweek sonder geld, selfone of komberse op straat deurbring om meer te leer oor die mense wat daar woon.
Die groep neem van Vrydag 20 November aan Die Straatkind Projek se Straatslaap-naweek deel. Hulle sal met net die klere aan hul lyf vertrek en self kos en skuiling moet vind.
Boek ná Straatkind Projek se Straatslaap-naweek
Vir Lawrence is die naweek ook die begin van ’n boek waarmee hy hoop om die verhale van hawelose mense met ’n groter gehoor te deel.
“Ek wil dit self ervaar,” sê hy oor sy besluit om sy besittings agter te laat. “Ek wil stories insamel van die mense op straat. Ek wil weet hoekom hulle daar is.”
Hy sê mense loop dikwels by hawelose mense verby sonder om te weet wat hulle na die straat gelei het. Deur tyd saam met hulle deur te bring, hoop hy om meer oor hul agtergronde en omstandighede te leer.
“Ek wil hê mense daar buite in die wêreld moet weet hoekom mense op straat beland en watter tipe situasies hulle in hul lewens teëgekom het wat daartoe gelei het,” sê hy.
“God gaan by ons wees”
Lawrence erken dat die naweek moeilik kan wees en dat daar risiko’s verbonde is daaraan om op straat te slaap. Hy sê egter sy geloof gee hom moed.
“Dit gaan moeilik wees, ek weet dit gaan moeilik wees. Maar ek stres nie of dink te veel aan my veiligheid en my vriende se veiligheid nie, want ek weet God gaan by ons wees. Hy gaan ons beskerm.”
Die vyf vriende sal tot Sondag op straat deurbring.
Lees ook: Kaapstad bewillig byna R100 m. vir hawelose ondersteuning en Help skuilings gedurende die winter – doen nou aansoek.