Die grootste 10 km-wedloop op Afrika-bodem, die Absa RUN YOUR CITY DURBAN 10K, vind Sondag 12 Julie 2026 in Durban plaas.
Die mans mik daarna om die eerste keer onder 27 minute op die kontinent te hardloop, terwyl die vroue hoop om die eerste keer ‘n tyd van onder 30 minute te behaal.
Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer, Joshua Cheptegei, is die groot trekpleister. Hy keer ná agt jaar terug na Suid-Afrikaanse paaie. Hy sal uitgedaag word deur die verdedigende kampioen, Kabelo Mulaudzi, asook die Suid-Afrikaanse veteraan, Stephen Mokoka. Kiprotich is vol vertroue dat hulle mekaar na nuwe hoogtes sal dryf.
By die vroue is alle oë op die Keniaan Brenda Jepchirchir, wie se persoonlike beste ’n ongelooflike 29:25 is. Haar mikpunt is om die eerste vrou te word wat ’n 10 km in minder as 30 minute in Afrika voltooi. Tayla Kavanagh, die plaaslike gunsteling en voormalige wenner, hoop dat tuisveldvoordeel haar sal help om haar eie beste tyd van 31:26 te verbeter.
Michael Meyer van Stillwater Sports sê dit is ’n eer om Cheptegei te verwelkom. Hy dui voorts aan dat die kaliber van die deelnemers die perfekte platform bied vir geskiedkundige vertonings. Absa se Rendani Muambadzi het ook die opgewondenheid en gevoel van eenheid onder die hardloopgemeenskap geprys. Met die wedloop wat reeds uitverkoop is, beloof Sondag om ’n onvergeetlike dag vir Suid-Afrikaanse sport te wees.
Bron: Stillwater Sports





