WES-KAAP. – ’n 40-jarige gewapende man is in Robertson gedood nadat die spesiale taakmag (STF) tydens ‘n skietery tussen hom en Robertson-polisie ingegryp het. Die Takies se ingryping het die skietery beëindig.
Genl.maj. Nonkululeko Phokane, nasionale polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes van die Robertson-polisiekantoor was eerste op die toneel nadat ’n klagte ontvang is, en het onder skoot gekom. Lede van die taktiese reaksiespan (TRT) is daarna as versterking ontplooi voordat die STF se hulp ingeroep is. Twee vroue wat in ’n naburige huis was, is tydens die operasie veilig uit die gebied gehaal.
’n Polisiepantservoertuig is ook tydens die skietery beskadig. Die polisie het die beamptes vir hul optrede geprys en beklemtoon dat die veiligheid van polisiebeamptes en lede van die publiek ’n prioriteit bly. ’n Polisiebeampte is tydens die voorval beseer.
Die polisie doen ’n beroep op gemeenskappe om dreigemente, onwettige vuurwapens en verdagte aktiwiteite aan te meld.





