GUADALAJARA, MEXIKO. – Mexiko se mede-aanbieding van vanjaar se Fifa-Wêreldbeker kan in gedrang kom weens ’n oplewing in dwelmkartelgeweld wat Sondag begin het, het kenners aan BBC Sport gesê.
Daar is slegs een pad wat lei na die Estadio Akron, tuiste van die Mexikaanse klub Chivas de Guadalajara, waar vier groepwedstryde tydens die toernooi gespeel sal word. Met die naderende Wêreldbeker, was verkeersopeenhopings tot dusver die grootste bekommernis oor dié stadion.
Sondag het ’n ander probleem opgeduik toe ’n brandende bus die pad na die stadion versper het. Die voorval was deel van wydverspreide geweld in die deelstaat Jalisco ná ’n federale operasie waarin die kartelleier Nemesio Oseguera Cervantes, ook bekend as “El Mencho”, dood is. Lede van die CJNG het padblokkades regoor die streek opgerig.
Benewens busse en taxi’s wat gekaap en aan die brand gesteek is, is winkels vir brandstigting en verwoesting geteiken.
Die stad het ’n rooiwaarskuwingsprotokol geaktiveer wat openbare aktiwiteite feitlik tot stilstand gebring het. Kroeë en restaurante het gesluit, en sportbyeenkomste is geraak.
Die gebeure plaas die kollig weer op vrae oor hoe owerhede ondersteuners se veiligheid tydens die Wêreldbeker sal verseker. Die moontlikheid dat ’n wedstryd in dié sokkermal land geteiken kan word, wek al dekades lank kommer onder politici, sokkeradministrateurs en ondersteuners.
Bronne: BBC Sport, The Guardian





