NOORDWES. – Christie Moolman, ’n graad 11-leerling van Potchefstroom Gimnasium, is oorlede nadat sy ’n lang, moedige en dapper stryd teen kanker gevoer het. Die skool het haar afsterwe met groot hartseer aangekondig.
Die skool sê Christie sal onthou word vir haar vriendelikheid, haar pragtige glimlag en haar sterk veggees wat deur baie bewonder is. Sy het haar skoolloopbaan voluit geleef en ’n merk op verskeie sportvelde gemaak. Sy het ook ’n spesiale plek in die dogterskoshuis beklee en was hoog geag deur medeleerlinge en personeel.
Individue wat haar op die netbalveld sien speel het, het haar as briljant en altyd met ‘n glimlag beskryf.
“In liefdevolle herinnering . Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van Christie Moolman, ’n graad 11-leerder, wat ná ’n lang en dapper stryd teen kanker oorlede is.
Christie sal onthou word vir haar vriendelikheid, haar mooi glimlag en ’n veggees wat almal bewonder het. Sy het voluit geleef en haar merk op verskeie sportbane en -velde gemaak en het ’n baie spesiale plek in die dogterskoshuis gehad. Christie sal altyd ’n baie spesiale plek in Gimmie- en Cachet-harte hê. Ons bid vir Jesus se vertroosting en vrede vir haar familie en naasbestaandes in hierdie uiters moeilike tyd.”






