KWAZULU-NATAL. – ’n Groen mamba van ongeveer 1,5 meter is Donderdag onder ’n bank in ’n huis in Piccadillystraat, Ottawa gevind.
Reaction Unit South Africa (Rusa) se reaksiebeampte Bryson Bisnath is na die toneel ontbied, nadat die huiseienaar ’n slang in die sitkamer opgespoor het. Volgens die inwoner het sy dogter onraad vermoed toe die familiehond onophoudelik geblaf het. Sy het gaan ondersoek instel en met die oplig van ’n kussing op die bank die slang opgemerk. Sy het haar pa geroep, wat toe die reptiel onder die bank sien beweeg het en dadelik hulp ontbied het.
Bisnath het die groen mamba veilig gevang en dit sonder enige voorval uit die huis verwyder.





