Brekende Nuus
Nuus

Vrou sterf in aanval by plaashek

Foto: Hannetjie van Zyl Facebook

NOORDWES. – Hannetjie van Zyl is dood nadat sy Maandagaand (5 Oktober) op ’n plaas aan die Doornpan-pad in Noordwes aangeval is. Dit blyk asof Van Zyl en haar man gedurende 2020 ook die slagoffers van ‘n plaasaanval was.

Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê Van Zyl is kort ná 19:00 aangeval nadat sy by die hek van die plaas gestop het om dit oop te maak. Volgens inligting is sy deur haar aanvaller of aanvallers oor die kop geslaan. Sy is daarna na ’n hospitaal gehaas. Cameron het bevestig dat Van Zyl nie haar beserings oorleef het nie. Hy het sy medelye met Van Zyl se familie, vriende en die boerderygemeenskap betuig. Hy het ook gesê landelike polisiëring, misdaadintelligensie, behoorlik toegeruste speurders en funksionerende landelike veiligheidstrukture is belangrik.

Polisiekommentaar oor die aanval en die omstandighede van Van Zyl se dood word afgewag.