WES-KAAP. – Die Helen Suzman-stigting het formele hofverrigtinge teen die Speaker van die Nasionale Vergadering (NV) en die leier van die EFF, Julius Malema, in die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingestel. Die kern van die saak is die vraag of Malema nog op die Regterlike Dienskommissie (RDK) mag dien.
Die Stigting vra nie die hof om dié vraag te beantwoord nie. Dit vra wel dat die hof die NV, wat grondwetlik verantwoordelik is vir die aanwysing van lede na die RDK, die instansie verplig om sy plig na te kom deur die saak te oorweeg. Die Stigting argumenteer dat Malema se herhaalde openbare kritiek op regters en sy gedrag tydens RDK-sittings hom ongeskik maak vir ‘n liggaam wat die land se regters kies. Verder vat die Stigting ook die Regterlike Dienskommissie-wet self aan. Hulle redeneer dat die wet nie vir ‘n bindende gedragskode vir RDK-kommissarisse voorsiening maak nie en ook geen straf vir wangedrag bepaal nie. Die Stigting wil hê die hof moet die wet ongeldig verklaar en die Parlement tyd gee om dit reg te stel, terwyl ‘n tussentydse gedragskode in werking tree.
“Diegene wat met die keuse van regters belas word, moet aan die vereiste standaarde voldoen om dié instelling te beskerm,” sê die Stigting. Die Stigting word verteenwoordig deur die regspan van Deneys, ondersteun deur advokate Geoff Budlender SC en Mitchell de Beer. Druk hier en hier om meer te lees.
Die EFF het Sondag skerp gereageer op die hofaansoek en noem dit ‘n polities gemotiveerde poging om opposiestemme in Suid-Afrika stil te maak. Die EFF sê dat die Stigting se aansoek in wese demokratiese kritiek op die regsbank as grondwetlike wangedrag probeer herdefinieer. Die party hou vol dat kritiek op regters en regterlike beslissings ‘n beskermde reg in enige ware demokrasie is en dat geen instelling — ook nie die regsbank nie — bo openbare ondersoek verhewe is nie.
Die party wys ook op wat hulle as dubbele standaarde beskou: volgens die party het die Stiging stil gebly oor die Phala Phala-kwessie, maar nou wend hulle hulle tot die hof toe oor Malema se uitsprake. Die tydsberekening van die litigasie word gesien as deel van ‘n breër veldtog om aandag weg te lei van pres. Cyril Ramaphosa se eie politieke probleme. “Ons sal nie geïntimideer word nie,” sê die party. “Ons sal voortgaan om korrupsie bloot te lê en alle magsinstansies, insluitend die regsbank, krities te betrag.”









