OREGON. – Suid-Afrika se spiesgooi-sensasie, Jan-Hendrik Heymans (19), het Vrydag 7 Augustus 2026 die goue medalje in die spiesgooi vir mans by die o.20-Wêreldatletiekkampioenskapsbyeenkoms in Oregon, VSA, verower.
Volgens World Athletics het Heymans, wat die gunsteling was, met ’n asemrowende gooi van 80.50 m gewen. Dit was meer as drie meter verder as sy vorige persoonlike rekord.
Heymans het vroeg reeds die voortou met ’n eerste gooi van 76.92 m geneem. Dit was ’n afstand wat op sy eie reeds genoeg sou wees om die kompetisie te wen. Hy was egter nie daarmee tevrede nie en het met al vyf van sy oorblywende gooie die spies verder as 76 m gestuur.
In die vyfde rondte het hy sy persoonlike rekord na 79.42 m opgestoot, maar sy grootste oomblik het hy vir laaste gehou met sy finale gooi van 80.50 m. Volgens World Athletics is dit die vierde verste wenafstand ooit by die Wêreld o.20-kampioenskappe aangeteken.
Die silwermedalje het na Indië se Ashish Yadav gegaan, met ’n beste gooi van 74.09 m, terwyl die Dominikaan Addison James brons gewen het met ’n nasionale rekord van 73.89 m. Dit is ’n historiese prestasie wat hom die Dominikaanse Republiek se heel eerste Wêreld o.20-medaljewenner maak.
Bronne: World Athletics, OFM, SuperSport





