Om ‘n kind in Suid-Afrika aan te neem, is ‘n streng gereguleerde wetlike proses wat die regte, veiligheid en welstand van kinders beskerm. Die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) is volgens die Kinderwet van 2005 die nasionale owerheid wat toesig hou en slegs geakkrediteerde agentskappe en geregistreerde maatskaplike werkers mag wettiglik aannemings fasiliteer. Enige informele of private reëlings is onwettig.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) sê aanmeming word vir enkellopende persone, getroude of ongetroude paartjies en dieselfde geslag-paartjies ouer as 18 jaar toegestaan. Voornemende aanneemouers moet Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners wees. Die kind se beste belange word vooropgestel.
Die proses begin by ’n geregistreerde agentskap of DSD-kantoor, waar ’n maatskaplike werker ’n huis- en geskiktheidsevaluasie doen. Polisieklaring en ’n uitslag van die seksuelemisdrywe-register is verpligtend, waarna goedgekeurde ouers op die register van aanneembare kinders en voornemende ouers geplaas word.
Die agentskap help dan om ’n wettig beskikbare kind te identifiseer. Indien die kind se biologiese ouers nie opgespoor kan word nie, word openbare advertensies geplaas. Toestemming van biologiese ouers is noodsaaklik vir ‘n aanneming en kinders ouer as 10 jaar moet self ook toestemming gee. Die Kinderhof gee finale goedkeuring deur ’n aannemingsbevel, waarna die DSD die aanvaarding registreer en ’n nuwe geboortesertifikaat uitreik.
Bolhuis en SSS bied ondersteuning en advies tydens die aannemingsproses en waarsku teen misdaad en onwettige praktyke. Daar moet veral in ag geneem word dat misdadigers weerlose ouers kan uitbuit. Daar moet ook teen kinderhandel en onwettige aannemings gewaak word.
Druk hier om meer te lees.





