MPUMALANGA. – Hoërskool Lydenburg treur oor die afsterwe van een van sy leerlinge, Flippie Jansen van Rensburg. Volgens Lowvelder blyk dit asof hy aan meningitis gesterf het, maar dit is nie bevestig nie.
Die skool het die nuus van sy leerling se afsterwe in ’n verklaring aan die skoolgemeenskap bekend gemaak en gesê die gemeenskap is diep daardeur getref. Hulle onthou Flippie vir die unieke plek wat hy in die skool ingeneem het en hoe hy die lewens van sy mede-leerlinge aangeraak het. Medelye is met Flippie se familie en vriende, asook met die Orighstad-gemeenskap betuig. Die skool herinner daaraan dat ‘n ondersteuningspan beskikbaar is vir leerlinge en personeellede wat ’n gesprek of berading benodig.
“Dit is met ‘n baie swaar hart dat ons die Hoërskool Lydenburg-gemeenskap inlig oor die afsterwe van een van ons leerders, Flippie Jansen van Rensburg. Ons skool is diep getref deur hierdie hartseer nuus.Flippie sal altyd onthou word vir die unieke plek wat hy in ons skool ingeneem het en die lewens van sy mede-Lydens wat hy aangeraak het. Ons dink in hierdie moeilike tyd in die besonder aan sy familie en vriende. In besonder ook aan sy “Ohrigstad-familie”, wat as ‘n gemeenskap die verlies van Flippie ervaar. Mag julle vertroosting en krag vind in mekaar gedurende hierdie tyd van rou. Ons skool se ondersteuningspan is beskikbaar vir enige leerder of personeellid wat behoefte het aan ‘n gesprek of berading.Met innige simpatie, Hoërskool Lydenburg”
Flippie is as ‘n trekkerliefhebber bestempel.



