Hoëspoedjaagtog in Pietermaritzburg ná reeks inbrake

Lees ook :

Foto: Mi7 National Group

KWAZULU-NATAL. – ’n Hoëspoedjaagtog deur verskeie dele van Pietermaritzburg het ontstaan nadat ’n groep vermeende reeksinbrekers deur veiligheidspanne en die polisie agternagesit is. Die verdagtes, wat glo vir verskeie huisbrake verantwoordelik is, word egter steeds gesoek

Mi7 National Group sê volgens ’n sosialemediaplasing dié diens het die afgelope paar weke talle klagtes oor verdagtes met ‘n silwer VW Polo, wat huise teiken, ontvang. Die groep se modus operandi is om by ’n oprit in te ry, die hek oop te forseer, deur veiligheidshekke of diefwering te breek en dan reguit na kluise en juweliersware te beweeg. Die inbrekers is glo binne minder as vyf minute weer weg.

’n Deurbraak het Vrydag gekom toe ’n oplettende inwoner die voertuig in die Hayfields-gebied opgemerk en die registrasienommer deurgegee het. Die besonderhede is op Mi7 se toesignetwerk gelaai, ’n stelsel van sowat 150 kameras met outomatiese nommerplaatherkenning wat oor die streek versprei is. Kort daarna het die stelsel die voertuig weer in Hayfields opgespoor. Beheerkamer-operateurs het lede van die reaksie-eenheid teen strategiese bedreigings, wat saam met die polisie na die verdagtes gesoek het, in kennis gestel.

Toe die voertuig uiteindelik raakgesien word, het die verdagtes gevlug en ’n hoëspoedjaagtog het gevolg wat van Hayfields deur besige stadstrate tot in Dambuza gestrek het. In Dambuza het die voertuig teen geparkeerde motors gebots, wat ’n kettingbotsing veroorsaak het waarin ’n polisievoertuig ook betrokke was. Die verdagtes kon steeds wegry, die voertuig later net so los en te voet verder vlug.

Inbraak-implemente is in die voertuig gevind. Die voertuig is deur ‘n Mi7-kliënt as gesteel aangemeld. Meer hulpbronne word ingespan om die groep op te spoor, maar tot dusver is nog geen inhegtenisnemings gemaak nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief