VRYSTAAT. – ‘n Hond is in Kutlwanong, Odendaalsrus, doodgemartel in ‘n voorval wat groot ontsteltenis en skok in die gemeenskap veroorsaak het.
Volgens die Virginia-DBV het die hond saam met sy eienaar geloop toe hy skielik deur ‘n trop honde aangeval is. In ‘n poging om te ontsnap, het hy vreesbevange weggehardloop en uiteindelik skuiling op ‘n vreemdeling se eiendom probeer kry.
In plaas van hulp kry, het hy in ‘n nagmerrie beland. Die eienaar van die eiendom het hom met houe teen die kop aangeval, hom met bakstene bestook en hom uiteindelik met ‘n pyp doodgeslaan. Omstanders het na bewering op die man geskree om op te hou, maar hy het voortgegaan totdat die hond dood was. Die verdagte is sedertdien in aanhouding en ‘n saak van dieremishandeling is by die polisie geopen en geregistreer.
Die DBV het bevestig dat die aangeleentheid nou in die regsproses is, met verdere hofverskynings wat verwag word.





