Brekende Nuus
Nuus

Honde uit vuil voertuig in Kaapstad verwyder

Foto's: Cape of Good Hope SPCA

WES-KAAP. – Drie honde is Vrydagaand uit swak lewensomstandighede in die Kaapstadse middestad verwyder nadat wetstoepassingsbeamptes die Kaap die Goeie Hoop-DBV om hulp gevra het. Die honde is in Longstraat aangetref, waar een buite die voertuig vasgemaak was en twee in die voertuig was.

Insp. Lwazi Ntungele van die Kaap die Goeie Hoop-DBV is op 18 September na die toneel en het die honde in sy sorg geneem. Volgens die DBV was die voertuig se binnekant uiters vuil en het dit ’n sterk, onaangename reuk gehad, terwyl die beperkte ruimte deur drie honde en ’n volwasse man gebruik is. 

Die DBV sê die eienaar was reeds aan hulle bekend en dat vorige waarskuwings oor die welsyn van sy diere nie tot ’n blywende verbetering gelei het nie. Wetstoepassers het glo op die toneel vasgestel dat die man een van die honde losgemaak het ondanks ’n opdrag om dit nie te doen nie, waarna hy die hond glo in die rigting van die beamptes aangehits het. Hy is daarna in hegtenis geneem. Volgens die DBV het hy, terwyl hy reeds geboei was, glo voortgegaan om die honde aan te hits en teruggehardloop na die voertuig.

Die drie honde is uiteindelik deur die DBV verwyder en vir verdere assesering en versorging weggeneem. Die DBV het ook strafregtelike klagtes ingevolge die Wet op Dierebeskerming 71 van 1962 aanhangig gemaak. Die ondersoek na die man se optrede teenoor die wetstoepassers word deur die betrokke owerhede hanteer.

Druk hier om meer te lees en sien.