Stellantis Suid-Afrika het honderde Jeep-eienaars in Suid-Afrika versoek om hul voertuie by ‘n gemagtigde handelaar te laat ondersoek. Altesaam 354 Jeep Grand Cherokee- en 115 Jeep Wrangler-voertuie word hierdeur geraak.
Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het bevestig dat die Grand Cherokee, wat in 2023 verkoop is, moontlik ‘n fout in die lugsak-beheerder het. Dit veroorsaak dat die veiligheidsgordel-waarskuwingsteken nie behoorlik funksioneer nie. Die Wrangler-modelle, wat tussen 2022 en 2024 verkoop is, het ‘n ander probleem — die hele instrumentpaneel kan skielik verdwyn terwyl die voertuig ry. Dit beteken dat die bestuurder sonder enige spoed- of waarskuwingsingsinligting op die pad kan wees, wat ‘n veiligheidsrisiko inhou.
Die inspeksie en sagteware-opdatering kan gratis by enige gemagtigde Jeep-handelaar gedoen word. Eienaars kan navrae aan [email protected] rig.






