NOORDWES. – ‘n 6-jarige wat ‘n “huilende pop” in ‘n hoenderhok gehoor en haar ouma daarvan gaan sê het, het op 30 Mei tot die redding van ‘n pasgebore baba in ‘n emmer gelei.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Sipho Taliwe, het die ouma dadelik gaan kyk en die pasgeborene in haar erf in Bodibe se Kgomola-afdeling naby Itsoseng aangetref. Sy het om hulp geroep, waarna bure haar gehelp het om die Itsoseng-polisiekantoor te kontak. Noodhulpdienste en maatskaplike werkers is daarna ingeroep. Die pasgebore baba is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal vervoer.
Die Itsoseng-polisie doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help om die ma of enige persoon met inligting op te spoor deur AO Albanos Thabiso Molefe by 060 967 2276 te bel.





