GAUTENG. – ‘n Pa en sy seun was Maandagaand teen ongeveer 19:30 die slagoffers van ‘n huisroof in Freelandstraat, Kilnerpark, toe drie vermomde gewapende verdagtes by die huis se voordeur ingekom het. ‘n Buurman is in die voorval geskiet en gewond.
Volgens polisiewoordvoerder kapt. Johan van Dyk is die slagoffers met vuurwapens aangehou en beveel om op die vloer te lê, waarna hul hande agter hul rûe vasgemaak is. Die verdagtes het die huis deursoek en twee selfone, ‘n platskerm-televisie en ‘n onbekende bedrag kontant buitgemaak. Tydens die roof het die seun ‘n buurman buite gesien en om hulp geroep. Die verdagtes het na buite gevlug en die buurman in die been geskiet voordat hulle in die nabyliggende bosse verdwyn het.
Polisie-ondersoeke duur voort.
Pretoria Emergency Volunteer Service sê in ‘n sosialemediaplasing die voorval het omstreeks 22:30 plaasgevind. ‘n Slagoffer het ‘n skietwond aan sy been opgedoen. Die slagoffer is deur Emer-G-Med na ‘n hospitaal vervoer.







