Die Wes-Kaapse hooggeregshof het gelas dat huurders van ’n luukse woning in Kampsbaai die eiendom teen 30 November 2026 moet ontruim nadat hulle meer as R1,4 miljoen se huur agterstallig geraak het.
Volgens die uitspraak, wat op 12 Oktober gelewer is, het die huurders in Augustus 2024 opgehou om huur aan die eienaar, Tania dos Santos Sousa Costa, te betaal weens beweerde instandhoudingsprobleme.
Die maandelikse huur het destyds R60 000 beloop en sou teen Augustus 2026 tot R65 000 styg. Teen Junie 2026 was die agterstallige bedrag reeds R1 407 500.
Die huurders het aangevoer dat die eienaar nie die nodige herstelwerk aan die woning gedoen het nie. Die hof het egter bevind dat hulle haar toegang geweier het om die probleme te ondersoek en herstelwerk te laat doen.
Die Wes-Kaapse Huurbehuisingstribunaal het ook hul versoek om ’n huurvermindering van 30% van die hand gewys.
Eiendom vir R3 600 per nag onderverhuur
Die hof is verder meegedeel dat die huurders ’n gedeelte van die eiendom sonder die eienaar se toestemming vir R3 600 per nag onderverhuur het.
Hulle het ook aangebied om die huis vir R11 miljoen te koop, maar die eienaar het die aanbod van die hand gewys.
Regter W. Amien het bevind dat die huurders alternatiewe verblyf kon bekostig en dat dit onbillik sou wees om van die eienaar te verwag om voort te gaan om die woning sonder huurinkomste beskikbaar te stel.
Die hof het ook die huurders se argument verwerp dat die Wet op Verbruikersbeskerming hulle teen die kansellasie van die huurooreenkoms beskerm.
Huurders in Kampsbaai kry tyd tot ná matriek
Omdat die gesin se oudste kind vanjaar matriek skryf, het die hof besluit om hulle tot ná die eindeksamen tyd te gee om te verhuis.
Die huurders moet die eiendom teen 13:00 op 30 November ontruim. Indien hulle nie die bevel nakom nie, mag die balju hulle op 2 Desember uitsit, met polisiehulp indien nodig.
Die huurders moet ook die eienaar se regskoste betaal.
Bron: Costa v N.L.D.C.J and Others [2026] ZAWCHC 596, Wes-Kaapse hooggeregshof.