OOS-KAAP. – Anke-Mari Cilliers (39) en Lee-Roy Scholtz (38) is vir die moord en roof op Daniel de Jager (65) elk tot 25 jaar direkte tronkstraf deur die Gqeberha-hooggeregshof gevonnis. De Jager is herhaaldelik met ‘n hamer oor die kop geslaan.
Luxolo Tyali, NVG-woordvoeder, sê die beskuldigdes, wat in ’n verhouding was en ’n woonstel op die oorledene se eiendom gehuur het, het skuldig gepleit ingevolge ’n pleit-en-vonnisooreenkoms. Volgens hofstukke het die moord ná ’n beplande sameswering op 29 Oktober 2025 plaasgevind. Cilliers en Scholtz het erken dat Estelle Le Grange (57), wat saam met De Jager gewoon het, hulle glo herhaaldelik genader het om hom te help vermoor.
Op die aand van die voorval het die drie na bewering die plan gefinaliseer en besluit om die misdaad soos ’n roof te laat lyk. Le Grange het na bewering instruksies gegee oor hoe die moord uitgevoer moes word en toegang tot die woning verseker. Kort voor middernag het Scholtz en Cilliers die huis binnegegaan nadat bevestig is dat die slagoffer slaap. In die slaapkamer is ’n hamer gebruik om De Jager herhaaldelik op die kop te slaan. Ná die aanval het die verdagtes die toneel glo so verander dat dit soos ’n inbraak en roof moes lyk. Verskeie items, insluitend ’n voertuig, juweliersware, bankkaarte en ’n skootrekenaar, is gesteel. ’n Bedrag van R4 500 is met die oorledene se bankkaarte onttrek. Die voertuig is later verlate gevind.
’n Nadoodse ondersoek het bevestig dat De Jager aan ernstige kopbeserings en ’n snywond aan die nek dood is.
Die hof het beslis dat die vonnisse vir die ander aanklagte saam met die moordvonnis uitgedien word, wat ’n effektiewe 25 jaar tronkstraf vir elke beskuldigde beteken. Le Grange, die beweerde meesterbrein, sal na verwagting op 10 Junie weer in die hof verskyn, nadat haar saak van dié van haar medebeskuldigdes geskei is.





