NIEU-DELHI. – Owerhede in Nieu-Delhi oorweeg ’n omstrede plan om giftige slange en krokodille in dele van die grensriviere met Bangladesj vry te laat om onwettige oorgrensbewegings en misdaad te beperk.
Indië se 4 096 km lange grens met Bangladesj strek deur uitdagende terrein, en volgens amptenare is sekere riviergedeeltes feitlik onmoontlik om te omhein. Dit het die regering genoop om alternatiewe maniere te ondersoek om kwesbare areas te beveilig.
Volgens Al Jazeera verwys ’n interne dokument van 26 Maart daarna dat die Border Security Force (BSF) sy personeel opdrag gegee het om die “haalbaarheid van die ontplooiing van reptiele in kwesbare riviergapings” te ondersoek. Die BSF is verantwoordelik vir die patrollering van Indië se internasionale grense met Pakistan en Bangladesh.
Die voorstel het reeds kommer ontlok onder menseregte-aktiviste en natuurbewaringsgroepe in Indië, wat waarsku dat dit ernstige etiese en omgewingsimplikasies kan hê.
Bronne: Al Jazeera; The Diplomat





