Brekende Nuus
Vermaak

Ou Super Mario-speletjie vir sowat R1,7 miljoen verkoop

’n Gebruikte eksemplaar van die bekende Super Mario Bros.-videospeletjie uit 1985 het twee wêreldrekords op ’n veiling in Amerika opgestel.

super mario speletjie 1985 veiling rekord
Foto: Heritage Auctions

AMERIKA. – Dalk is dit tyd om weer deur daardie bokse met ou speelgoed en videospeletjies te krap. ’n Gebruikte eksemplaar van die gewilde Super Mario Bros.-videospeletjie uit 1985 is vir $96 875 (sowat R1,7 miljoen) op ’n veiling in Dallas, Texas, verkoop.

Die speletjie, wat vir die Nintendo Entertainment System (NES) vervaardig is, is op 20 November deur die veilingshuis Heritage Auctions verkoop.

Hoewel die verpakking reeds oopgemaak en die speletjie gebruik is, is die oorspronklike speletjiekasset, handleiding en verpakking steeds volledig.

Die eksemplaar is besonder waardevol omdat dit deel van die eerste produksielopie van Super Mario Bros. was. Dit het ook ’n oorspronklike mat plakker op die verpakking en het ’n algehele beoordeling van nege uit tien vir sy toestand ontvang.

Heritage Auctions sê die verkoop het twee wêreldrekords opgestel: die hoogste bedrag wat vir ’n eksemplaar uit die eerste produksielopie van Super Mario Bros. betaal is, asook die hoogste bedrag vir ’n gebruikte videospeletjie met sy volledige oorspronklike inhoud en verpakking.

Versamelaars het tydens dieselfde veiling ook $131 250 vir ’n onoopgemaakte eksemplaar van Super Mario Bros. uit die tweede produksielopie betaal.

Dit is egter aansienlik minder as die $3 miljoen wat in Junie vanjaar vir ’n seldsame, verseëlde eksemplaar van dieselfde speletjie betaal is.

Evan Masingill, Heritage Auctions se direkteur vir videospeletjieveilings, skryf die belangstelling in ou videospeletjies onder meer aan nostalgie toe. Mense wat met dié speletjies grootgeword het, het nou die geld om items uit hul kinderjare aan te skaf.

Bronne: Heritage Auctions, Investing.com, UPI