Suid-Afrika se jaarlikse verbruikersinflasie het in Junie tot 5,0% gestyg, vergeleke met 4,5% in Mei. Dit is die hoogste inflasiekoers sedert Junie 2024, toe dit 5,1% was.
Voedselinflasie het intussen verder verlangsaam en van 1,9% in Mei tot 1,6% in Junie gedaal. Produkte soos witrys, mieliemeel, stampmielies en pap was goedkoper as ‘n jaar gelede, terwyl vleisinflasie ook afgeneem het. Daarteenoor het die prys van varkvleis, wors, blikkiesvleis en skaap- en lamsvleis steeds sterk gestyg.
Statistiek Suid-Afrika sê vervoer was die grootste drywer van die styging, hoofsaaklik weens skerp hoër brandstofpryse. Brandstof was in Junie 34,3% duurder as ‘n jaar gelede, met diesel wat 50,8% en petrol 31,7% gestyg het. Die hoër brandstofpryse het ook openbare vervoer duurder gemaak. Minibustaxi-tariewe het in Junie met 11,5% gestyg, e-taxidienste met 8,7%, langafstandbusdienste met 8,4% en skoolvervoer met 3,7%.
Huurkoste het ook toegeneem. Huur vir meenthuise was oor die afgelope jaar 5,4% hoër, vir woonstelle 4,6% en vir huise 3,7% duurder.
Druk hier om meer te lees.






