Saterdag, 20 Desember, gaan Jake Paul kragte meet teen die voormalige wêreld-swaargewigkampioen Anthony Joshua in wat beskou word as een van die grootste kruisoor-gevegte in die boksgeskiedenis. Die geveg sal professioneel gesanksioneer wees en sal bestaan uit agt drie-minuut-rondtes, met albei boksers wat 10-ons-handskoene dra.
Die geveg sal op Netflix beskikbaar wees, met die uitsending wat reeds om 03:00 die oggend begin. Daar word verwag dat AJ en Paul rondom 05:30 in die kryt sal klim.
Baie mense glo dat hierdie ’n foefie sal wees waar die wenner reeds vooruit bepaal is. Alhoewel ek dit nie met absolute sekerheid kan sê nie, glo ek glad nie dat dit die geval is nie. Anthony Joshua (AJ) word nie deur die beurs of die grootheid van die gebeurtenis beïnvloed nie – hy het al meer per geveg verdien en het boonop steeds titelaspirasies vir sy pad vorentoe. Daar is ’n mondelinge ooreenkoms tussen hom en Tyson Fury om uiteindelik in 2026 teen mekaar te baklei, en indien hy teen Paul sou verloor, sal daardie geveg ook soos mis voor die son verdwyn.
So nee, hierdie is ’n regte professionele boksgeveg en albei manne gaan hul bes doen om mekaar soveel skade as moontlik toe te dien. AJ sê dat hy Jake glad nie onderskat nie, want hy was ’n paar jaar gelede self ook ’n “niemand” – en dit het hom nie lank geneem om Olimpiese goud te wen en daarna ’n swaargewigtitel nie. Hy meen hy sien dieselfde selfvertroue en dissipline in Paul as wat hy self gehad het toe hy deur die geledere opgeklim het.
Jake Paul is die mees suksesvolle “bokser-influencer” tot op hede en het reeds miljoene in die proses verdien, meestal deur ouer of kleiner MMA-vegters aan te vat wat reeds verby hul beste dae is. In November verlede jaar het hy die wêreld-boksgemeenskap woedend gemaak toe hy die 58-jarige legende Mike Tyson aangedurf het. Sedertdien wag baie mense in spanning vir die dag wanneer hy uiteindelik te veel gaan afbyt en sy Moses teen ’n regte bokser teëkom.
Wel, daardie dag het uiteindelik aangebreek. Miljoene mense gaan inskakel om te sien of Jake Paul uiteindelik op regstreekse televisie bewusteloos geslaan gaan word. Daar is egter ook baie wat bekommerd is en glo dat hy met sy lewe en gesondheid speel deur ’n gevaarlike opponent soos AJ aan te vat.
Wat dink jy?
Gaan Jake Paul uiteindelik ‘n pakslae kry, of gaan hy die onmoontlike doen en die geveg wen?





