Erfenisdag het my aan Suid-Afrika se rofstoeigeskiedenis laat dink. Hierdie maand is dit presies 30 jaar sedert die WWF (nou WWE), die wêreld se grootste stoeipromosie, in September 1996 vir die eerste keer na Suid-Afrika en Afrika getoer het. 2026 sal ook onthou word as die jaar waarin Suid-Afrika afskeid moes neem van die stoeilegende Jan Wilkens, wat op 19 April oorlede is.
Jan Wilkens en Hulk Hogan
Wilkens is al dikwels Suid-Afrika se Hulk Hogan genoem weens sy gewildheid en sukses in die kryt. Wilkens was 11 jaar ouer as Hogan en het reeds in die 1950’s begin stoei, maar albei was in die 1970’s en 1980’s aktief. Hogan was tydens die rofstoeiontploffing van die 1980’s, rofstoei se goue era, die wêreld se bekendste en gewildste stoeier. Hogan is in Julie 2025 oorlede.
Wilkens het plaaslik en internasionaal sukses behaal. In die 1960’s het hy in Engeland getoer en by Wembley en die Royal Albert Hall in Londen oorwinnings behaal. In 1973 het hy vir die Japannese promosie New Japan Pro-Wrestling gestoei, en volgens rekords het hy dieselfde jaar om die CWA-wêreldswaargewigtitel meegeding. Hy was ‘n rekordsesmalige EWU-wêreldkampioen in die superswaargewigafdeling tussen 1974 en 1987. Volgens rekords het hy die titel byna vyf jaar lank behou, van 13 November 1976 tot 3 Oktober 1981, wat ook ‘n rekord is. Hy was van 1974 tot 1984 Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen.
Hogan het self in die vroeë 1980’s by New Japan Pro-Wrestling gestoei. In sy loopbaan van 1977 tot 2012 was hy sesmalige WWF/WWE-kampioen en sesmalige WCW-swaargewigkampioen. Sy WWF-titelbewind van 1 474 dae in die 1980’s is die derde langste in die geskiedenis.
Ná Wilkens is Phillip Paul Lloyd, wat as Justin Gabriel in die WWE gestoei het, Suid-Afrika se suksesvolste rofstoeier. Hy het die WWE-spanstoeititel drie keer gewen. Na my mening is hy die beste spanstoeier wat Suid-Afrika nog opgelewer het.
Net die tyd sal leer wie Suid-Afrika se volgende Jan Wilkens gaan wees. Een ding staan egter vas: Jan Wilkens was Suid-Afrika se Hulk Hogan.
André van Eck, Worcester