Jan Wilkens, die bekende 1.96 m lange Suid-Afrikaanse stoeier, is Sondag in die ouderdom van 83 oorlede. Hy het sy debuut in 1955 gemaak en in 1987 uitgetree.
Wilkens is op 2 Julie 1942 in Johannesburg gebore. Hy was ’n voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen en ’n sesmalige wêreldkampioen. Hy het internasionaal, onder meer in Engeland en Japan, deelgeneem. In 1974 het hy die Suid-Afrikaanse titel gewen en later verskeie wêreldtitels ingepalm. Van sy bekendste teenstanders sluit Blackjack Mulligan en Big John Studd in. Wilkens het finaal uitgetree ná ’n loopbaan wat oor meer as twee dekades gestrek het.
Sy afsterwe laat ’n groot leemte in Suid-Afrikaanse professionele stoei.
Steve Hofmeyr het vanoggend op sosiale media gesê: “As jy oud genoeg is om Jan Wilkens te onthou, sal jy met leedwese verneem – ons ou legende is oorlede. Hy was 83.”
Bronne: Wouter Pienaar op SupaRugby, WOM (Wêreld Onbeperkte Musiek) en Steve Hofmeyr

Foto: Saartjie Klipkop





