Die onder 20 Internasionale rugby reeks het Donderdag met mening by Rondebosch Hoër Seunskool in Kaapstad afgeskop. Suid Afrika se Junior Bokke was hopeloos te sterk vir Chilie in hul openingswedstryd. Lindsey Jansen en Risima Khosa het beide ‘n driekuns behaal en Vusi Moyo het 22 punte met sy skopwerk aangeteken toe die Junior Springbokke Chilie oortuigend geklop het met 97-0 . Rustyd telling was 52 teenoor nul.
In wat letterlik ‘n eensydige affêre was, het die Suid-Afrikaners 15 drieë aangeteken. Daar was wel af en toe ‘n hanteringsfout, wat sal verseker dat die Junior Bokke iets sal hê om aan te werk in die komende dae.
Alhoewel daar ook tye was waartydens Chili die bal gekry het om die Junior Bokke se verdediging te toets, het dit beslis nie genoeg gebeur nie, met balverlies wat dikwels aanleiding gegee het tot sterk teenaanvalle van die gasheerspan.
Dominant in alle fassette regoor die veld, het die Junior Bokke agt drieë gedruk voor russtyd, met Jansen wat drie hiervan bygedra het. Die Suid-Amerikaners – ondanks dat hulle met die wind van agter gespeel het, het net geen antwoorde gehad op die meedoënlose aanvalle van die Bokke nie.
In die openingswedstryd vroeër die dag, het Georgië, Fiji met 29-23 geklop. Die Junior Bokke speel Dinsdag teen Fiji, terwyl Chili en Georgië mekaar die stryd aansê. Beide wedstryde word gespeel by Wynberg Hoër Seunskool.
Puntemakers: Junior Springbokke 97 (52) – Drië: Jayden Brits, Risima Khosa (3), Lindsey Jansen (3), Luan van der Berg, Gert Kemp, Pieter van der Merwe, Kai Pratt, Altus Rabe (2), Quintin Potgieter (2). Verdoelings: Vusi Moyo (11).
Vir meer fotos, klik hier. Fotos deur Johan Maree aXnShots.





