Brekende Nuus
Elektrisiteit

Kaapstad koop eerste keer goedkoper krag as Eskom

Foto: Stad Kaapstad

WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het sy eerste twee kragaankoopooreenkomste met onafhanklike kragprodusente gesluit en sal volgens die Stad 19% tot 21% minder as Eskom se huidige tariewe vir die krag betaal.

Die twee 20-jaar-ooreenkomste behels altesaam 70 MW se sonkrag. ’n Verdere tenderproses sal volg om uiteindelik tot 200 MW van onafhanklike kragprodusente aan te koop. Die sonkragprojekte sal aan die stad se netwerk gekoppel word. Een aanleg van 30 MW word in Atlantis deur JEMPEC ontwikkel, terwyl Make A Difference LLC ’n 40 MW-aanleg in Philippi sal lewer.

Volgens burgemeester Geordin Hill-Lewis sal die stad na verwagting sowat R8 miljard se elektrisiteit volgens die twee ooreenkomste aankoop, met die vereiste dat die kragpryse oor die volle 20 jaar laer as Eskom se tariewe moet bly. Prysverhogings ingevolge die ooreenkomste sal aan die verbruikersprysindeks (VPI) gekoppel word, eerder as aan Eskom se tariefverhogings. “Van gesinne kan nie verwag word om eindelose Eskom-prysverhogings vir altyd te absorbeer nie,” het Hill-Lewis gesê.

Die Stad sê die twee projekte sal na verwagting ook byna twee miljoen ton koolstofvrystellings voorkom. Dit kan die Stad in staat stel om koolstofkrediete te verdien wat op die oop mark verhandel kan word. Kaapstad het reeds R36 miljoen uit koolstofkrediete verdien deur munisipale afval-na-energie-inisiatiewe. Die Stad het verder gesê hy beplan om mettertyd tot 700 MW se onafhanklike krag aan te koop. Volgens die Stad het inwoners en ondernemings sedert Junie 2024 ook altesaam R67 miljoen verdien deur 150 GWh se oortollige sonkrag aan die Stad te verkoop in ruil vir munisipale rekeningkrediete en kontant.

Druk hier om meer te lees.

Readability