Brekende Nuus
Nuus

Kaapstad loods nuwe SWAT- en lugtoesigeenhede

Foto's: Stad Kaapstad

WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het nuwe gespesialiseerde SWAT- en lugtoesigeenhede geloods om die stad se vermoë om ernstige en hoërisiko-misdaad te bekamp, te versterk.

Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die eenhede op 7 Oktober saam met Alderman JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, bekendgestel. Die SWAT-eenheid sal ondersteuning bied tydens hoërisiko-operasies, onder meer teen-bendeverwante misdaad en afpersing, met die uitvoering van hoërisiko-inhegtenisnemingslasbriewe, gyselaarsituasies en situasies met verskanste verdagtes. Die eenheid sal ook by hoëprofiel-geleenthede vir sekuriteit ondersteuning bied en beskik oor ’n gepantserde voertuig, moderne vuurwapens, nagvisie en hittebespeuring. Volgens Smith het lede van die SWAT-span uitgebreide ervaring in die SAPD se spesiale taakmag.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê die Stad se metropolisie se lugvaarteenheid sal lugtoesig, misdaadbrandpunt-patrollies, opsporing van verdagtes, soek-en-reddingsoperasies en monitering van grondgebied ondersteun. Die eenheid beskik oor beamptes met vlieënierkwalifikasies en vier soorte vliegtuie vir verskillende operasionele behoeftes. Termiese en zoemkameras, KI-gesteunde opsporing en laserafstandmeters kan gebruik word vir ondersoek na verdagte aktiwiteite, onder meer in bosagtige gebiede en oor dakke. Regstreekse lugbeelde kan na beheersentrums gestroom word om beamptes op die grond te help lei.

Die Stad sê vroeë operasionele suksesse van die lugtoesigvermoë sluit intelligensiegedrewe inhegtenisnemings in Delft, Somerset-Wes en Strand, ’n dwelminhegtenisneming in Tafelsig en die opsporing en inhegtenisneming van ’n gesoekte verdagte in Elsiesrivier in. Die eenheid is ook reeds vir verkeers- en hoofwegvoorvalle en wetstoepassing by strande gebruik.

Die nuwe eenhede vorm deel van die Stad se breër veiligheidsbelegging, wat ook die gesamentlike polisiedienste- operasionele sentrum (JPSOC) in Goodwood insluit. Die digitale sentrum sal Stad-polisiëringshulpbronne en tegnologie soos hommeltuie, lyfkameras, voertuigkameras, outomatiese nommerplaatherkenning, CCTV, KI en outomatisering integreer. Die Stad sê hy sal binnekort oor 3 000 kameras beskik, terwyl 530 wetstoepassingsvoertuie reeds met voertuigkameras met ANPR-funksionaliteit toegerus is.

Hill-Lewis sê die Stad het gedurende sy huidige termyn meer as 1 300 nuwe Stad-polisiebeamptes bygevoeg en het ook ’n nuwe eenheid vir snelwegpatrollering en verdere veiligheidstegnologie ingestel. Hy sê die SAPD se versoeke vir toegang tot Stad-kamerabeelde vir polisieondersoeke het die afgelope jaar met 35% toegeneem.

Druk hier om meer te lees.