WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het Dinsdag sy veiligheidsplan vir die feestyd bekendgestel. Die plan sluit ’n rekord-inset van 700 nuwe amptenare in wat saam met die bestaande 4 000 wetstoepassers en noodpersoneel ontplooi word. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die plan by Muizenbergstrand, saam met alderman JP Smith en rdl. Francine Higham bekendgestel.
Die veiligheidsplan fokus op padveiligheid, strand- en openbare-area-toesig, asook gemeenskappe wat deur bendes geraak word. Meer as 1 000 LEAP-amptenare sal daagliks in bende-kwespunte, insluitend Tafelberg, patrolleer. Padveiligheid sal aan die orde van die dag wees, met 24 uur ‘n dag voertuigkontrolepunte en patrollies op hoofroetes.
Die Stad ontplooi ook 340 strandlewensredders en 343 swembadlewensredders by 29 strande en openbare swembaddens tussen 10:00 en 18:00 en soos met vorige jare sal die Identikidz-program kinders merk om hulle met ouers en versorgers te help herenig, indien hulle verlore sou raak.
Hill-Lewis het gesê: “Ons is gereed om besoekers en inwoners te verwelkom met ’n veilige feestyd en ’n rekordveiligheidsinset.” Smith het bevestig dat bende-geteisterde gemeenskappe steeds daagliks gepatrolleer sal word, en Higham het inwoners gevra om lewensredders se instruksies te volg en kinders dop te hou. Die Stad het die publiek herinner aan vier goue reëls vir waterveiligheid; swem slegs waar leweredders aan diens is, let op sterk strome, moenie onder die invloed van alkohol swem nie en hou kinders te alle tye dop.
Druk hier om meer te lees. Druk hier om die lewensredders se skedules te sien.





