KAAPSTAD. – Suid-Afrika se Olimpiese bronsmedaljewenners, die Blitsbokke, keer in Desember terug na hul tuisveld vir een van die mees opwindende sportbyeenkomste van die jaar. Die HSBC Sevens World Series (SVNS) keer op 7 en 8 Desember terug na die DHL-stadion in Kaapstad, waar die Blitsbokke en 23 ander topmans- en vroue-sewes-spanne die somerseisoen gaan afskop.
Wêreldrugby het aangekondig dat die 2025 HSBC SVNS weer met die tradisionele dubbelronde in Dubai en Kaapstad begin, na die suksesvolle Olimpiese Spele in Parys waar rekordbywonings behaal is. Die Blitsbokke het in Parys bewys dat hulle in topvorm is, en met die steun van ‘n vol DHL-stadion kan hulle dalk die tuiswedstryd wen, iets wat laas in 2015 gebeur het.
Die 2024-weergawe van die Kaapstad-sewes beloof om sport, vermaak en kultuur oor twee opwindende dae te kombineer. Rian Oberholzer, SA Rugby se hoof uitvoerende beampte, het gesê die geleentheid is een van die beste sportbyeenkomste in Suid-Afrika, met 24 van die wêreld se topspanne wat gaan meeding. Kaartjies sal binnekort beskikbaar wees.
Bron: SA Rugby





