Die geliefde Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld maak ’n sterk terugkeer na die musiektoneel met haar nuwe liedjie As Jy My Roep.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê die snit, wat Karlien saam met Marco van Deventer en Georic Lomas geskryf het, kombineer ’n lekker dansritme met ’n dieper, betekenisvolle boodskap.
Volgens Van Jaarsveld is dit ’n lied wat maklik by ’n ontspanne braai gespeel kan word, maar steeds emosionele diepte dra. “Ek dink mense kan ’n liedjie verwag wat hulle by hul braai op ’n Vrydag kan speel, maar wat substance het,” sê sy. As ma van vier kinders sê sy haar musiek word sterk deur haar gesinslewe beïnvloed en dat dit vir haar belangrik is dat haar liedjies ’n positiewe boodskap oordra. As Jy My Roep reflekteer ook haar geloof, met lirieke wat fokus op oorgawe en gehoorsaamheid aan God.
Die musiekvideo is in Weiveld verfilm en sluit energieke danspassies van Mila G in, wat nog ’n dinamiese element tot die vrystelling voeg.





