GAUTENG. – Die sterftesyfer ná ’n skietery in Sophangisastraat, Katlehong-Noord, het tot vier gestyg nadat nog twee slagoffers, onderskeidelik 23 en 27 jaar oud, aan hul skietwonde in die hospitaal beswyk het. Twee mans, onderskeidelik 23 en 21 jaar oud, is aanvanklik op die toneel dood verklaar. Die skietery het Dinsdag omstreeks 18:50 plaasgevind. Drie ander slagoffers, waaronder ‘n 12-jarige, word steeds vir hul beserings behandel.
Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die slagoffers het glo van ’n gedenkdiens vir ’n lid van ’n politieke party by Laerskool Mogobeng teruggekeer toe ’n man na bewering op hulle losgebrand het. Die verdagte het homself ná die voorval aan die polisie oorgegee. Die saak, waarin aanklagte van moord en poging tot moord ondersoek word, is aan die Gautengse politieke moorde-taakspan toegewys. Die verdagte is steeds in polisiebewaring en sal na verwagting Donderdag in die Palm Ridge-landdroshof voorkom.
Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, het die skietery veroordeel en ’n deeglike en spoedige ondersoek geëis. Hy het ook ’n beroep op inwoners gedoen om geloofwaardige inligting met wetstoepassingsowerhede te deel om die ondersoek te ondersteun.