VSA. – ’n Tienjarige seun het op 15 November die Amerikaanse noodlyn 911 gebel vir hulp met sy Wiskunde-huiswerk. Hy het eerlik aan die operateur, Kim Krause, verduidelik dat dit nie ’n noodgeval is nie, maar dat hy hulp nodig het met ’n desimale probleem.
Krause, wat 40 jaar gelede laas op skool was, het gou besef sy kan nie die probleem oplos nie en het besluit om versterkings in te roep. Chase Mason, ‘n lid van die polisie, wat naby was, is na die seun se huis gestuur.
By aankoms het Mason die seun gevind wat hom vriendelik na die kombuistafel geneem het, waar die huiswerk netjies uitgepak was. “Ek kon nie vir hom sê ek is ook nie goed met Wiskunde nie, maar ek het besluit om my bes te probeer,” het Mason later gesê.
Saam het hulle die probleem opgelos. Mason het die seun daarna herinner dat 911 net vir noodgevalle gebruik moet word, maar het sy besigheidskaartjie agtergelaat met die boodskap dat die seun hom in die toekoms direk kan kontak as hy hulp nodig het.
Die plaaslike polisiekantoor het die voorval geloof as ’n voorbeeld van hoe wetstoepassers nie net in noodgevalle optree nie, maar ook ’n positiewe rol in die gemeenskap speel.
“Wanneer hy teruggaan skool toe, gaan sy maats dink dis ongelooflik,” het Mason met ’n glimlag gesê. “Ek hoop net nie almal begin my nou bel vir Wiskunde-hulp nie!”





