KWAZULU-NATAL. – Drie seuns – twee tieners en ‘n 8-jarige – is Sondagmiddag by Beachwood tot op die strand gehelp om te gaan hulp soek toe ‘n 22 voet-boot omgeslaan het. ‘n Man (41), van die kinders op die boot se pa, het gesterf terwyl vyf mense die ongeluk oorleef het.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê die kinders se oom, ook die skipper van die boot, het hulle tot by die strand aan die Durbanse noordkus gehelp. Die kinders het ‘n verbyganger teëgekom wat hulle na ‘n nabygeleë vulstasie geneem het, waarvandaan hulp ontbied is. Die NSRI het die man vir sy vinnige optrede geloof.
Die NSRI Durban-stasie is omstreeks 17:30 ontbied na die boot wat in die branders omgeslaan het. Verskeie owerhede het hulle na die toneel gehaas. Daar is bevestig dat ses mense aan boord was toe die boot omgeslaan het. ‘n 17-jarige seun, wat aanvanklik vermis was, is later opgespoor en met die ander oorlewendes herenig. Die skipper, ‘n man in sy laat dertigs, is ook veilig aangetref. Die liggaam van die oorledene – die pa van drie van die oorlewende seuns, onderskeidelik 19, 17 en agt jaar oud, en ook ‘n neef van die skipper – is op die strand aangetref, waar hy dood verklaar is.
Vier oorlewendes – die twee broers van 19 en 8 jaar oud, hul oom en ‘n 17-jarige vriend – is per ambulans na ‘n hospitaal geneem. Hulle sal na verwagting ten volle herstel. Die derde broer, 17 jaar oud, is deur paramedici ondersoek, maar het geen beserings opgedoen nie en is nie hospitaal toe geneem nie.
Volgens die NSRI het die boot vroeër die dag vir ‘n visvanguitstappie vanaf die Durban-skibootklub vertrek. Dit was toe hulle terugkeer dat die boot vermoedelik in die branders by Beachwood omgeslaan het. Plaaslike vissermanne wat die voorval sien gebeur het, het eerste hulp verleen en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die 41-jarige man toegepas totdat nooddienste opgedaag het. Die oorledene se liggaam is aan die polisie en forensiese patalogiesedienste oorhandig. Die boot het later op die strand uitgespoel en is in die sorg van die polisie en metropolisie, met hulp van die Durban-skibootklub.
Lambinon bevestig die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen. Die NSRI het sy medelye met die familie en vriende van die oorledene uitgespreek.
KZN VIP Protection Services sê hul noodspanne is op bystand geplaas en het gereageer nadat berigte van die voorval tussen Umhlanga en Blue Lagoon ontvang is. Volgens aanvanklike inligting het ‘n reusebrander die boot met ses mense aan boord laat omslaan. Ondanks die pogings van reddingswerkers is ‘n man wat op die boot was op die toneel dood verklaar. Van die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na nabygeleë hospitale vervoer is.
Marshall Security en ALS Paramedics was ook op die toneel om hulp te verleen.





