WES-KAAP. – Leano Vergotine (42) is skuldig bevind aan ernstige misdade teen kinders in Ceres. Die hooggeregshof het hom vyf lewenslange vonnisse en ‘n verdere 78 jaar vonnis opgelê. Hy is boonop as ‘n gevaarlike misdadiger verklaar. Hy sal vir ‘n onbepaalde tydperk aangehou word en nie vir parool oorweeg word nie, tensy hy weer vir verdere ondersoek in die hof verskyn.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê dit word beskou as ‘n baanbreeksaak en een van die swaarste vonnisse wat al ooit opgelê is. Vergotine was op parool vir soortgelyke oortredings en het boonop ‘n uitgebreide kriminele geskiedenis met 16 vorige skuldigbevindings toe hy vir die nuwe misdrywe in hegtenis geneem is. Hy het minderjariges oor ‘n tydperk geteiken en is skuldig bevind op verskeie aanklagte, insluitend vyf van verkragting, verskeie aanklagte van kinderpornografie en die seksuele voorbereiding van kinders, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die hof het gehoor Vergotine was op parool nadat hy 15 jaar tronkstraf vir die verkragting van ‘n minderjarige seun in 2009 uitgedien het. Tydens dié parool het hy minderjarige seuns en meisies aangeval, aangerand en dan verkrag terwyl hy video-opnames maak. Sy misdaadloopbaan het begin toe hy self ‘n minderjarige was met aanklagte wat insluit: inbraak met die doel om te steel en diefstal, onsedelike aanranding, drie keer se ontsnapping uit wettige aanhouding, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, roof, opsetlike saakbeskading en verkragting.
Die hof het gelas dat sy vonnisse gelyktydig uitgedien word en sy naam op die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word. Die NVG het die samewerking tussen die polisie en die vervolgingspan geprys.





