GAUTENG. – Kira Meyer (12), ‘n leerling aan die Laerskool Skuilkrans in Murrayfield in Pretoria, se verdowing is gestaak. Alhoewel haar kliniese observasies (vitals) normaal is en haar hartklop normaal lyk, reageer sy egter steeds nie. Sy is ernstig beseer nadat sy met ‘n elektriese skopfiets (scooter) geval het. Sy het ‘n breinbesering opgedoen en is met ‘n helikopter na die Milpark-hospitaal gevlieg.
Haar ma, Angelique Meyer, het op 10 Mei inligting oor die ongeluk op sosiale media gedeel. Met haar aankoms by die hospitaal is Kira dadelik in ‘n geïnduseerde koma geplaas. Haar ma het gesê dat ‘n breinskandering nie goeie nuus was nie, maar 48 uur moes verloop sodat die breinswelling kon afneem. Sy het in ‘n hartroerende boodskap gevra dat vriende en familie saam met haar bid.
Charmonique Botha, Kira se suster, het boodskappe van Angelique op sosiale media gedeel waarin gesê word dat die dokters aan die gesin gesê het om vir die ergste voor te berei en dat hulle selfs deur ‘n sielkundige bygestaan word. Vanoggend het Charmonique gesê hulle glo in wonderwerke en dat hul ma rustiger is as voorheen.
Kira, wat ook ‘n sagtebalspeler is volgens haar eie Facebook-blad, het reeds op vyfjarige ouderdom begin ysskaats. In 2024, toe sy 10 jaar oud was, het sy die kans gekry om aan ‘n ontwikkelingskamp vir figuur-ysskaatsers in Italië deel te neem. Sy het selfs koekverkopings gehou om geld daarvoor — ‘n bewys van haar toewyding en passie. Laerskool Skuilkrans het ook om gebede vir haar gevra.
Lees Angelique Meyer se plasings hier onder:
16 ure terug -“Sedasie is vanoggend 6uur gestop, maar dis al wat verander het, haar vitals lyk normaal, hart klop nog, maar sy het nog glad nie reageer nie. Ons bly op ons kniee!
Op 10 Mei – Liewe Heer, vandag lê ek hierdie pragtige pop van my by U voete neer. Ek vra dat elkeen van my Fb vriende saam ons in gebed sal tree en lewe oor haar spreek vanaand. Kira was vanmiddag in n elektronies scooter ongeluk, sy het n brein besering opgedoen en is met helikopter na Milpark-hospitaal geneem. Sy is in n koma in ICU. Die brein scan het nie goeie nuus gebring nie, maar ons weet God is in beheer. Bid asb saam met ons, die volgende 48 uur is baie belangrik vir herstel en dat die swelling sal sak. Dankie vir elke oproep en gebed, boodskappies, ons sal antwoord en update soos ons kans kry.


Foto soos gedeel op Charmonique Botha Facebook-blad deur SA TRUCK KING. WE ARE trucking






