VRYSTAAT. – Twee kitsbanke is vroeg Vrydagoggend in die sentrale sakegebied van Phuthaditjhaba, voorheen bekend as Witsieshoek, opgeblaas. ’n Veiligheidswag is tydens die voorval geskiet en sowat 11 verdagtes het met ’n onbekende bedrag geld gevlug.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die voorval omstreeks 01:20 plaasgevind. Die veiligheidswag was in ’n voertuig besig om kilometerlesings aan te teken toe twee gewapende verdagtes hom gekonfronteer en in die heup en arm geskiet het.
Hulle het daarna plofstof gebruik om twee kitsbanke op te blaas. Sowat 11 verdagtes het volgens die polisie van die toneel gevlug met twee sakke wat vermoedelik geld bevat het.
Die beseerde veiligheidswag is hospitaal toe geneem vir mediese behandeling. Sy vuurwapen is na bewering ook tydens die voorval gesteel.
Die ontploffings het verder skade aan die skuifdeur van ’n nabygeleë begrafnisonderneming veroorsaak.
Phuthaditjhaba se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ondersoek sake van poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en diefstal van ’n vuurwapen. Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om met inligting vorendag te kom wat tot die verdagtes se inhegtenisneming en skuldigbevinding kan lei.
Enigiemand met inligting kan die eenheid by 082 332 3418 of Crime Stop by 08600 10111 kontak. Inligting kan ook deur die MySAPS-toepassing gegee word.
Bron: SAPD