Brekende Nuus
Nuus

Kleuterseun sterf toe pa hom per ongeluk raak ry

GAUTENG. – ’n 18 maande oue kleuter is Woensdagmiddag dood nadat hy na bewering per ongeluk deur sy pa se bakkie op die erf van hul woning in Ingersolstraat, Lynnwood Glen, raakgery is.

Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê polisiebeamptes was omstreeks 14:40 in Atterburyweg toe ’n silwer Toyota-dubbelkajuitbakkie hulle teen hoë snelheid verbygesteek het. Die beamptes het die voertuig tot by Life Faerie Glen-hospitaal gevolg, waar die bestuurder, wat hom as die kleuter se pa geïdentifiseer het, verduidelik het dat hy haastig was om sy seun hospitaal toe te neem. Volgens die pa het hy die kleuter per ongeluk met die bakkie op die erf getref. Die kind het kopbeserings opgedoen en is ondanks mediese behandeling deur paramedici dood verklaar.

Die Brooklyn-polisiekantoor ondersoek die voorval as strafbare manslag.

Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU) is kort voor 15:00 ontbied. Met hul aankoms is die kleuter op die agtersitplek van ’n voertuig aangetref. Ondanks die pogings van verskeie mediese praktisyns, was die kind se beserings noodlottig en is hy op die toneel dood verklaar.