WES-KAAP. – Die Knysna- plaaslike munisipaliteit is skuldig bevind op 11 klagtes van omgewingswetsoortredings en is deur die Knysna-streekhof tot ‘n boete van R10 miljoen gevonnis.
Volgens Eric Ntabazalila, NVG-streekwoordvoerder, het die munisipaliteit skuldig gepleit op klagtes wat die nasionale omgewingsbestuurswet, die afvalwet en die nasionale waterwet betrek. Die R10 miljoen-boete is vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die munisipaliteit dieselfde bedrag aanwend vir noodreparasies binne ooreengekome tydsbeperkings. Die munisipaliteit het erken dat rioolwater oor ‘n tydperk van jare ongehinderd in omliggende riviere en die Knysna-strandmeer gevloei het, ‘n ekosisteem wat as die belangrikste vleiland in Suid-Afrika beskou word en die tuiste is van die krities bedreigde Knysna-seeperd. Riool het uit oop mangat in strome gevloei, ‘n septiese tenk het gelek en afvalbestuursterreine is sonder die vereiste magtiging bedryf.
Die munisipaliteit se afvalbehandelingstasie, geleë naby die Knysna-hawe, het ook weens ernstige tekortkominge onder die loep gekom, waaronder onvoldoende infrastruktuur, ongedierteprobleme, slegte reuke wat naburige sakepersele raak en afval wat openlik op die grond gestapel word. Dit is veral kommerwekkend in ‘n toeristedorp waar die bedryf sowat 4 000 direkte werksgeleenthede skep.
As deel van die vonnisooreenkoms moet die munisipaliteit omvattende aksieplanme implementeer, insluitend noodreparasies aan die afvalbehandelingstasie teen 30 Julie 2026, die installering van sluitbare deksels op mangate langs die Bigai-rivier teen 30 Junie 2026 en die skoonmaak van informele nedersettings langs die rivierbanke. Langtermyndoelwitte sluit die ontwikkeling van twee nuwe afvalbehandelingstasies en die aankoop van nuwe voertuie en toerusting teen 2030 in.
Benewens die hoofboete moet die munisipaliteit ook R500 000 aan die departement van omgewingsake vir omgewingsreghandhawing betaal. ‘n Verdere boete van R100 000, of alternatiewelik vyf jaar direkte gevangenisstraf, is ook opgelê, maar vir vyf jaar opgeskort op voorwaarde dat die munisipaliteit nie weer die Nasionale Waterwet oortree nie. Die munisipaliteit moet ook sy goedgekeurde raadsbegroting van R630 miljoen oor vyf jaar aanwend om aan omgewingsverpligtinge te voldoen.
Adv. Adriann Mopp, waarnemende direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnis verwelkom en gewaarsku dat die NVG nodige stappe sal bly doen om die omgewing te beskerm.





