Aubrey Tsengwa, raadslid van die African National Congress (ANC), is as Knysna se nuwe uitvoerende burgemeester verkies.
Die Raad het ‘n aantal mosies op sy spesiale vergadering oorweeg, een wat ‘n mosie van wantroue in die vorige burgemeester, rdl. Levael Davis van die Demokratiese Alliansie (DA) ingesluit het.
Die DA-kiesafdelingshoof in Knysna, Dion George, het na die mosie van wantroue gesê ’n “koalisie van korrupsie het die DA-geleide regering in Knysna verwyder.”
Volgens George het die mosies van wantroue wat Maandag in die raad aanvaar is, niks te doen met dienslewering nie en alles met eie belang.
“’n Koalisie van Korrupsie (ANC/PA/EFF/PBI) is saamgestel om te plunder en te steel wat ook al oorbly nadat die vorige ANC-regering ons dorp geplunder het.”
Die DA het by die plaaslike regeringsverkiesing in November 2021 die meeste setels gewen, maar nie ’n meerderheid nie en dit het sedertdien in ‘n koalisie regeer.





