GAUTENG. – Mmamoloko Kubayi, die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, en adv. Andy Mothibi, die nasionale direkteur van openbare vervolging, het hul kommer uitgespreek oor die uitwerking wat onlangse getuienis voor die Madlanga-kommissie op die geloofwaardigheid van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) het.
Palesa Rammitlwa, ministeriële woordvoerder, sê ernstige bewerings oor die optrede van Idac-amptenare en die hoof van die direktoraat het twyfel laat ontstaan oor die instelling se geloofwaardigheid en die publiek se vertroue daarin. Kubayi en Mothibi sal daarom dringend met die ondersoekdirekteur van Idac vergader om die situasie te bespreek en oplossings te vind wat die vertroue in Idac en ander staatsinstellings wat misdaad bekamp, kan herstel.
Volgens die ministerie sal die vergadering nie inmeng met die werk van die Madlanga-kommissie nie. Die doel is eerder om te verseker dat beide die nasionale vervolgingsgesag en Idac hul pligte geloofwaardig, onafhanklik en sonder vrees of bevoordeling kan uitvoer. Stappe waarop tydens die vergadering besluit word, sal later bekend gemaak word. Die publiek word intussen aangemoedig om Idac steeds te ondersteun, aangesien geen individu belangriker is as die instelling wat hy of sy dien nie.





