OOS-KAAP. – Konst. Azile Nxokwana (30), verbonde aan die Centane-polisiekantoor, het lof ontvang nadat goeie diens wat sy aan die publiek gelewer het wyd op sosiale media gedeel is.
Kapt. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê Nxokwana se optrede het uitgestaan nadat ’n Facebook-plasing haar dienslewering geprys het en vinnig viraal gegaan het. Volgens Nkohli het die plasing deur Veliswa Mambanjwa Mvenya vertel hoe sy ongeveer twee uur by die Centane-polisiekantoor deurgebring het en hoe Nxokwana elke persoon met geduld, respek en doeltreffendheid sonder om te kla gehelp het.
Nxokwana het in 2024 by die polisie as deel van ‘n werwingsprogram vir gegradueerdes aangesluit en beskik oor ’n graad in sielkunde en sosiologie van die Walter Sisulu-universitiet. Sy sê haar opleiding help haar om mense beter te verstaan en moeilike situasies kalm te hanteer.
Die woordvoerder sê haar optrede wys dat een beampte ’n positiewe verskil kan maak aan die beeld van ’n hele polisiekantoor en dat sy as voorbeeld vir ander beamptes in die provinsie dien. Gemeenskapslede het ook op die oorspronklike plasing gereageer en hul eie positiewe ervarings gedeel, wat ’n seldsame golf van waardering vir die Centane-polisiekantoor tot gevolg gehad het.





