KWAZULU-NATAL. – Drie mense is dood en nog vier beseer nadat twee voertuie Saterdagaand op die P614 naby Misty Ridge in ’n kop-aan-kop-botsing betrokke was.
Kelsey-Jae Meyrick van IPSS Medical Rescue sê paramedici is na die ongeluk ontbied en het met hul aankoms vasgestel dat die twee voertuie teen ’n hoë snelheid gebots het.
Vier beseerdes het ernstige tot kritieke beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer voordat hulle in die sorg van IPSS Medical Rescue se gevorderde lewensondersteuningsparamedici na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer is. Drie insittendes het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die toneel is aan die polisie oorhandig, wat die omstandighede en oorsaak van die botsing sal ondersoek.






