Brekende Nuus
Misdaad

Verkragter in Kuruman tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis

’n 29-jarige man is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 32-jarige vrou in Dithakong, naby Kuruman. Die voorval het in Februarie 2021 plaasgevind.

kuruman verkragter lewenslange gevangenisstraf
Foto: Ter illustrasie

KURUMAN. – ’n 29-jarige man is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 32-jarige vrou in Dithakong, naby Kuruman. Die Noord-Kaapse polisie het die vonnis verwelkom.

Volgens kapt. Nomthando Mnisi, woordvoorder van die SAPD, het die voorval op 28 Februarie 2021 omstreeks 23:45 plaasgevind. Die vrou was op pad huis toe vanaf ’n taverne toe die man haar genader het.

Sy het na ’n nabygeleë huis gehardloop om hulp te soek, maar die man het haar gevolg en die huiseienaar gedreig om haar na buite te stuur. Hy het gedreig om by die huis in te breek en haar self te gaan haal.

Toe die vrou na buite gaan, het die man haar gegryp en seksuele omgang geëis. Toe sy weier, het hy ’n mes uitgehaal en gedreig om haar dood te maak. Uit vrees vir haar lewe het sy aan sy eise toegegee.

Die man het haar daarna na ’n vriend se huis geneem, waar hy haar in die teenwoordigheid van sy vriende verkrag het.

Die vrou het later toestemming gevra om die toilet te gebruik en daarin geslaag om te ontsnap. By haar huis het sy haar familie van die voorval vertel en die saak by die polisie aangemeld.

Genl.maj. Luntu Ngubelanga, waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in die Noord-Kaap, het konstabel Tholakele Beauty Majola van die Kuruman-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe geloof vir haar werk om die saak suksesvol af te handel.

Die SAPD het sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld en seksuele misdrywe herbevestig en slagoffers aangemoedig om sulke voorvalle by die polisie aan te meld.

Bron: SAPD