NOORD-KAAP. – ’n 18-jarige vrou van Kuruman is Vrydag deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in hegtenis geneem nadat sy glo ‘n vals verkragtingsklag teen ’n polisiekonstabel ingedien het.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die konstabel, wat aan Kimberley se voertuigondersoekeenheid verbonde is, is Donderdag in hegtenis geneem. Die beweerde verkragting het op 23 September by ’n gastehuis in Kuruman plaasgevind. Die vrou het Vrydag, voor die konstabel se hofverskyning, aan die ondersoeker erken dat sy ’n vals verklaring afgelê het. Volgens Opod het sy gesê sy het die klag ingedien omdat die konstabel versuim het om die ooreengekome R400 aan haar te betaal ná hul beweerde konsensuele seksuele omgang. ’n Saak van meineed is teen die vrou geopen weens die beweerde opsetlike leuen onder eed en misbruik van staatsbronne.
Die verkragtingsaak teen die konstabel is in die hof teruggetrek. Die vrou het Vrydag in die Kuruman-landdroshof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat. Die saak is tot 16 Oktober uitgestel sodat sy geleentheid kan kry om regshulp te bekom. Opod het gewaarsku dat vals aanmeldings nie geduld sal word nie en dat daar teen persone opgetree sal word wat na bewering die regstelsel vir persoonlike gewin probeer misbruik.