Waarskuwing! Video kan sensitiewe lesers ontstel.
NOORDWES. – Twee mense is Saterdag dood verklaar en meer as tien beseer toe weerlig tydens die Mphebatho Troop-fees, by die Dertig-sportterrein langs die Mphebatho-biblioteek in die Moretele- plaaslike munisipaliteit, geslaan het. Nooddiensspanne het hulle dadelik na die toneel gehaas. Beseerdes het mediese sorg ontvang en die fees is opgeskort om veiligheid te verseker.
Luidens ‘n verklaring van die Moretele-munisipaliteit het rdl. Masango George Manyike, die burgemeester, Sondag ’n inligtingsvergadering by die munisipale saal in Mathibestad gehou om meer inligting te gee. Die munisipaliteit werk saam met nood- en plaaslike dienste. Die burgemeester het voorts aangedui dat hy met die provinsiale gesondheidsdepartement sal vergader om meer ambulanse vir vinnige beskikbaarheid tydens noodgevalle te versoek. Meer inligting sal verskaf word sodra dit beskikbaar is.
Die families van diegene wat deur die voorval geraak is, is daarna besoek. Die Mashishi-familie in Lefatlheng het hulle dogter Kenoshi (35), ‘n onderwyseres by Laerskool Tlhaloganyo, verloor. Buiten haar ouers laat die onderwyseres haar seun (10) agter. Die Shekwambane-familie in Itsoseng het hulle dogter Koketso (28) aan die dood afgestaan.
Lazarus Mokgosi, die premier van die provinsie, sal na verwagting vandag (Maandag) die slagoffers besoek.
Die African People’s Convention (APC) in die Noordwes het Sondag ‘n verklaring oor die voorval uitgereik. Die party sê meer as 40 beseerdes ontvang mediese behandeling. Onmiddellike ondersteuning aan geraakte families, mediese en sielkundige sorg vir oorlewendes en ’n hersiening van veiligheidsmaatreëls vir buiteluggeleenthede tydens uiterste weerstoestande is gevra. Die party het ook ’n beroep gedoen op groter fokus op klimaatsveerkragtigheid en vroeë waarskuwingstelsels.





